Laerskool Impala
Trotse Geskiedenis

Laerskool Impala open sy deure op 27 Julie 1965 met ‘n totaal van 285 leerlinge. Op daardie stadium was dit die derde Afrikaanse laerskool in Kemptonpark. Laerskool Impala is op 3 November 1966 amptelik in gebruik geneem met ‘n leerlingtal van 265 leerlinge en 10 onderwysers. Mnr. C.E. Visser was die eerste waarnemende hoof. Daar was egter geen tuine of velde nie en daarom is daar dadelik begin met fondsinsamelingsprojekte soos byvoorbeeld verkopings, konserte, volksspele-vertonings en ‘n reuse stoeitoernooi. Tydens die eerste tien jaar van die skool se bestaan is R35 000 uit die skoolfonds aangewend om die skoolterrein te ontwikkel.Terrasse is uitgelê, gras is rondom die skool aangeplant, motorhuise is opgerig, ‘n snoepwinkel is aangebou, ens. In Mei 1974 dreun die eerste grondverskuiwingsmasjinerie. Binne vier maande was die werk afgehandel. Gras word aangeplant en twee weervas korfbalbane word in ontvangs geneem. Gedurende Maart 1975 word twee tennisbane voltooi. Hierdie ontwikkelings is moontlik gemaak gevolg van die wonderlike samewerking wat daar tussen die ouers, personeel en kinders bestaan het.

Laerskool Impala
Ryk Erfenis

Mnr. G.S. Hauptfleisch is gedurende Januarie 1966 aangestel as hoof van Laerskool Impala. Mnr. J.M.N. Kruger neem die leisels by hom oor in September 1968 as waarnemende hoof en word op 1 Januarie 1971 as hoof aangestel.  Gedurende 1983 word mnr. C.J. De Beer as hoof aangestel. Mnr. J. Bouwer neem in 1989 die leisels by Mnr. De Beer oor as hoof en tree aan die einde van 2006 af as hoof. Mnr. T. Gouws is gedurende 1 Januarie 2007 die hoof van Laerskool Impala tot en met 25 April 2018. Mnr Willem Jacobs neem die leisels by hom oor en kom blaas nuwe asem in Laerskool Impala waar hy as hoof op 1 November 2018 aangestel is. Die huidige skoollied is deur Mnr. Hennie Smit, akteur van egoli, geskryf en gekomponeer. Laerskool Impala se naam is afgelei van die eerste straalvliegtuig wat in Suid-Afrika vervaardig is naamlik die Impala vegvliegtuig. Mnr. G.S. Hauptfleisch het die  skoolwapen ontwerp en dit is afgerond deur mnr. De Ridder van Mentor.

Laerskool Impala
Ons Skoolwapen

Ons skoolwapen is hoofsaaklik deur een van ons vorige hoofde, Mnr G Hauptfleisch,ontwerp. Die heraldiese afronding is gedoen deur Mnr de Ridder van Mentor.

 

Die leuse “Vinnig en Vlytig” is d.m.v ‘n kompetisie deur die leerlinge voorgestel.


Laerskool Impala huisves tans 1616 leerders. Die Gr. 1- 7 Leerders sluit 1240 van hierdie getal leerders in. Laerskool Impala spog vanaf 2008 met ‘n nuutgeboude kleuterskool (Gr-R Stralejakkers). Ons is bevoorreg om tans 376 leerders by die babaklas tot die Gr. R-Sentrum te akkomodeer. Die onderwyspersoneel het intussen tot  69 gegroei, 11 Administratiewe dames, 9 Studente, 1 Gr. R. Assistent1 tereinbestuurder, 10 Terrein Assistente, 1 Leerder Toilet Assistent, 1 Kombuis Assistente en 4 Naskool personeel.

Laerskool Impala
Ons Visie en Missie

1. VISIE

Die beste Laerskool in Kempton Park en Gauteng.

 

2. MISSIE

Die daarstelling van ‘n Christelike, primêre, opvoedkundige sentrum van uitnemendheid, waar leerders in hul moedertaal voorberei word vir die veranderende wêreld, deur die maksimale benutting van alle beskikbare bronne.

 

Ter uitbouing van bostaande missie, verbind alle belanghebbendes hulself tot die volgende waardes en riglyne:

 

  1. Puik onderrig op Christelike grondslag.
  2. ‘n Afrikaans kultuur-eie opvoeding.
  3. ‘n Vennootskap tussen alle belanghebbendes, gebaseer op ‘n onderlinge vertrouensverhouding.
  4. Gedifferensieerde ontwikkeling van die kind in totaliteit, ter verwesenliking van sy volle potensiaal.
  5. ‘n Gesonde balans tussen akademie, sport en kultuur.
  6. Professionele uitnemendheid.
  7. Gelykberegting tussen alle belanghebbende groepe.
  8. Koste effektiewe onderwys en opvoeding.

Laerskool Impala
Tradisies

Dit is ‘n jaarlikse instelling by Laerskool Impala om die nuwe skooljaar te begin met ‘n kerkdiens. So word verseker dat die jaar reg begin word en leerders gemotiveer word vir die jaar wat voorlê. Hierdie kerkdiens vind gewoonlik plaas op die eerste Vrydag nadat die nuwe skooljaar in Januarie begin het.

 

Jaarliks aan die einde van die tweede kwartaal word daar vir die Milo-beker gespeel. Op hierdie dag is daar netbalwedstryde waar die mans- en damespersoneel teen mekaar speel. Die damespersoneel speel dan ook teen die 1ste netbalspan. Daar word ook rugbywedstryde tussen die O/13 en O/12 rugbyseuns gespeel. Hierdie dag is hope pret.

 

In 2019 het Laerskool Impala se O/13 en O/12 krieketseuns ‘n nuwe tradisie by die Impies begin.

 

Die twee groepe gaan elke jaar vir die Impie Ashes-beker speel. Ons het die idee gekry by Australië en Engeland wat jaarliks vir die Ashes-beker speel. Die “Ashes” bestaan uit die eerste paaltjie wat die twee spanne voor die 1ste wedstryd gebrand het. Elke speler het ‘n vuurhoutjie aan die brand gesteek en dit een vir een teen die paaltjie geplaas. (Daar gaan nie elke jaar ‘n paaltjie gebrand word nie.) Die as is in die wedstrydbeker geplaas en die spanne sal jaarliks vir daardie beker speel.

 

Besonderhede van die wedstryd:

Daar word twintig beurte gespeel. Die wedstryd word op Laerskool Impala se velde (onder die spreiligte) na afloop van die jaar se krieketseisoen gespeel.

Mnr. Willem Jacobs

Laerskool Impala
Boodskap van die hoof

"Laerskool Impala is ‘n skool wat aan kinders ‘n platform gee om hul drome en potensiaal met oorgawe te kan uitleef.

 

Laerskool Impala is die plek waar kinders kind kan kom wees.

 

Laerskool Impala waar elke kind kan lag, leef en droom in geloof."

 

Die onderwys is ‘n professie wat voortdurend ontwikkel en daar word van skole verwag om by te bly met voortdurende ontwikkeling.  Laerskool Impala neem hierdie verantwoordelikheid ter harte en poog om op hoogte te bly met die nuutste inligting in die opvoedkunde.

 

Laerskool Impala se uitnodigende onderwysmodel skep die gepaste onderrigmileu waar passievolle onderrig gekombineer word met die nodige empatie om alle leerders se harte te verstaan en denke  te stimuleer vir akademiese vooruitgang. 

 

Die vennootskap tussen die Impie-gemeenskap en die skool verskaf die geskikte klimaat waar elke Impie veilig en geborge kan voel.

 

By Laerskool Impala hou ons daarvan om gebalanseerde jongmense toe te rus met al die emosionele, geestelike en akademiese benodighede wat hulle in die toekoms sal kan gebruik. 

 

Laerskool Impala bied ‘n verskeidenheid aktiwiteite aan. Alle kinders kan hulself uitleef op verskeie terreine.

Laerskool Impala
Skool Beleide

Akademiese Beleid

Asseseringsbeleid

Toelatingsbeleid

Godsdiensbeleid

Kultuurbeleid

Leierskapbeleid

Taalbeleid

Gedragskode

Kamerabeleid

Selfoonbeleid

Dissipline