Privaatheid Oorsig

Hierdie webwerf gebruik *koekies om jou ervaring te verbeter terwyl jy deur ons bladsye blaai. Slegs *koekies wat noodsaaklik is vir die basiese funksies van die webwerf word gebruik en op jou webblaaier gestoor. Ons weerhou ons daarvan om derdeparty-webkoekies te gebruik vir doeleindes soos prestasie-analise, analise of advertensies.

Impala Sport

Toekomstige sterre


 
 








 

Hier by Laerskool Impala is sport ons passie. Impie-sport se sukses lê in die organisasie en bestuur van die mees toegewyde en bekwame bestuur, organiseerders en afrigters. Ons streef daarna om elke Impie tot die beste van hul vermoëns te ontwikkel. Harde werk, ontwikkeling, motivering, spanwerk, trots, saamgroei en saamdroom is die boustene van ons sukses.

Impala Sport
Uitstekende Sportfasiliteite

Laerskool Impala spog met pragtige sport fasiliteite. In 2019 is ons netbalbane opgegradeer. Ons het ‘n pragtige krieketblad en krieketnette, splinternuwe tartan aanloopbane by die verspring. Ons het van die beste spreiligte in die land. Net die beste vir elke Impie.

 

In 2019 is Laerskool Impala gekroon as die Top Laerskool in Gauteng. Laerskool Impala het al heelwat atlete gehad wat op Provinsiale sowel as Nasionale vlak aan verskeie sportsoorte deelgeneem het. Hier by die Impies is ons vreeslik trots op ons Impies en op ons sport.

0
Sportmangees
Impala Sport
Impie Atletiek

Laerskool Impala bied aan elke Impie vanaf O/6 –O/13, seuns en dogters die geleentheid om aan atletiek deel te neem. Die atletiekseisoen begin reeds in Oktober en eindig in Maart. Ons Impies neem aan beide weg- sowel as tuisbyeenkomste deel.

 

Atletiek items vir O/6 – O/9 (juniors) sluit in: Baanitems nl. naellope en aflos (slegs vir O/9)

 

Atletiek items vir O/10 – O/13 (seniors) sluit in: Baanitems nl. naellope, aflos, hekkies en middelafstande. Velditems nl. hoogspring, verspring, gewigstoot, diskus en spiesgooi.

 

Jaarlikse hoogtepunte sluit die Prestige reeks, Top 20 en Interlaer-byeenkoms in waar al die Kempton skole deelneem. Die Interlaer vind gewoonlik vroeg in Februarie plaas. Die Distrik byeenkoms (D17) wat die groter Kempton distrik, Benoni en Germiston insluit, vind ook in Februarie plaas. Hier kry atlete die geleentheid om te kwalifiseer om aan die Gauteng kampioenskappe wat einde Februarie/ begin Maart plaasvind deel te neem.

 

Die atletiek seisoen eindig middel Maart na afloop van die Suid-Afrikaanse kampioenskappe. Die Impies verteenwoordig jaarliks hul provinsie by die SA-kampioenskappe en kan spog met ‘n paar SA-kampioene oor die jare.

 

Elke atleet kry die geleentheid om sy Skool, Cluster, Distrik en uiteindelik sy Provinsie te verteenwoordig en by die jaarlikse Prysuitdeling kry elke atleet erkenning vir sy/haar deelname gedurende die seisoen.

Impala Sport
Impie Rugby

Rugby word gesien as een van die hoof sportsoorte wat deur skole aangebied word en by Laerskool Impala is dit beslis nie anders nie. Ons glo daarin om elke Impie met soveel moontlike geleenthede toe te rus en sodoende inklusiwiteit te kweek.

 

Valkierugby word vir ons 0/7 & 0/8 Impies aangebied waar hulle Springbok-drome in die vorm van “tagrugby” begin.

 

Ons spog met A en B spanne asook 3de, 2de en 1ste spanne om soveel moontlike deelname by die seuns te kweek.

 

Laerskool Impala neem tans in die Valke Laerskole se Superliga deel asook in die nuut gestigde MC Prestige-reeks.

 

Ons bied ook ‘n rugby akademie vir Gr R-3 leerders aan waar meer individuele afrigting en vaardigheidsontwikkeling die hoof fokus is. Die afrigters is ongelooflik passievol en beskik ook oor die nodige kwalifikasies vir afrigting. Wat skeidsregters aanbetref spog ons met twee manspersoneel wat Top 10 Skeidsregters is asook drie A-Skeidsregters in die Valke Laerskole Rugby streek.

 

By Impieland sal u rugby liefhebber met net die beste geleenthede toegerus word en ons is opgewonde om die liefde en passie by elke speler verder te kweek.

Impala Sport
Impie Tennis

Ons senior tennisspanne word uit die graad 4 tot 7 spelers gekies. Ons het ook leerders wat al van graad 3 in die span kan wees. Elke span bestaan uit 4 spelers. Daar is seuns- en dogtersspanne.

 

Ons het ook mini-tennis waar ons, ons jong spelertjies al begin leer en regkry vir die senior tennis. Alle graad 1-3 leerders is welkom om by die mini-tennis in te val.

 

Spelers ontvang afrigting by ‘n privaat afrigter op ons skool se bane.

1ste Kwartaal: Oefensessies

2de Kwartaal: Oefensessies en proewe

3de Kwartaal: Ligawedstryde

Impala Sport
Impie Netbal

Laerskool Impala poog jaarliks om nie net goeie netbal prestasies te lewer nie, maar ook om 'n liefde vir díe sport te kweek.  Impie-netbal ondersteun elke dogter om haar volle potensiaal te bereik en haar God-gegewe talente uit te leef.

 

Netbal is ‘n vinnig groeiende sport en hegte bande van wedersydse respek en liefde word tussen afrigters en speelsters gesmee. 

 

Ons kan met trots getuig dat elke netbaldogter lewensvaardighede soos deursettingsvermoë, probleemoplossing en spanwerk bemeester. Hierdie eienskappe maak ons netbaldogters uniek en bemagtig hulle met selfdissipline en verantwoordelikheid in die komplekse lewe van vandag.

 

Al die Impie-netbalspanne, van die kleine 0/9’tjies tot ons 0/13-dames, woon jaarliks 'n netbal-kliniek en toernooi te Zwartkloof, wat deur Dr. Elsjé Jordaan (Protea-netbalafrigter) aanbied word by, om ons spangees en vaardighede op te knap.

 

Voorseisoenale vriendskaplike wedstryde word gespeel en ons neem ook sedert 2019 deel aan die MC Prestige-reeks.

 

Laerskool Impala bied mini-netbal vir 0/7, 0/8 en 0/9 op vriendskaplike basis aan.

 

Ons senior spanne, vanaf 0/10 tot en met 0/13 het elk drie spanne wat aan die Ekurhuleni-Liga deelneem.

Impala Sport
Impie Hokkie

By Impies is hokkie nie net ‘n sport nie maar ‘n “PASSIE”. ‘n Passie wat uitgeoefen word nie net deur die spelers nie maar ook die afrigters. Impala bied hokkie aan vir beide dogters en seuns. Ons het jaarliks klinieke en neem deel aan verskeie hoogstaande toernooie vanaf kwartaal 2 tot kwartaal 3. Ons bied ook ons eie hokkiedag aan. Ons het ‘n besige en opwindende seisoen waarin ons spanne met die beste kompeteer en puik presteer. Impies hokkie kook!

Impala Sport
Impie Krieket

Daar word na krieket verwys as die “gentleman’s game” en dit is die tipe krieketspeler wat ons by Laerskool Impala wil ontwikkel.  Die krieketveld is die plek waar die leerder kan bou op waardes soos respek, dissipline en selfstandigheid.

 

Hier by Impala streef ons daarna om altyd ons beste te doen op die krieketveld, met die doel om ons spelers te ontwikkel en vir hulle ‘n liefde vir die sport aan te leer.

 

Laerskool Impala spog met uitstekende krieketfasiliteite soos: ‘n Regte krieketblad en krieketnette wat van hoë standaard en kwaliteit is. 

 

Laerskool Impala neem deel aan die A-liga en het gereeld spanne wat in die finale speel en selfs as liga-wenners uitree. Elke jaar word daar seuns gekies vir die dorpspan en ons spog jaarliks met seuns wat vir die Easterns krieketspan gekies word.

 

Laerskool Impala bied privaat afrigting vir seuns wat sou belangstel om hul krieketvaardighede te verbeter en ons het ook ‘n krieketakademie wat aktief deur die jaar plaasvind.

 

In 2019 het Laerskool Impala se O/13 en O/12 krieketseuns ‘n nuwe tradisie by die Impies begin.

 

Die twee groepe gaan elke jaar vir die Impie Ashes-beker speel. Ons het die idee gekry by Australië en Engeland wat jaarliks vir die Ashes-beker speel. Die “Ashes” bestaan uit die eerste paaltjie wat die twee spanne voor die 1ste wedstryd gebrand het. Elke speler het ‘n vuurhoutjie aan die brand gesteek en dit een vir een teen die paaltjie geplaas. (Daar gaan nie elke jaar ‘n paaltjie gebrand word nie.) Die as is in die wedstrydbeker geplaas en die spanne sal jaarliks vir daardie beker speel.

 

Besonderhede van die wedstryd:

Daar word twintig beurte gespeel. Die wedstryd word op Laerskool Impala se velde (onder die spreiligte) na afloop van die jaar se krieketseisoen gespeel.

Impala Sport
Impie Landloop

By Laerskool Impala is massa deelname ‘n prioriteit. Ons wil hardloop en oefen lekker maak en die liefde daarvoor by elke Impie kweek. Ons glo vas dat ‘n gesonde liggaam, ‘n gesonde gees huisves. Ons moedig elke Impie aan om by ons landloop oefengroep aan te sluit. Ons fokus op algemene fiksheid wat beslis ‘n voordeel inhou vir alle sportsoorte en die atlete het boonop hope pret.

 

Ons landloop seisoen begin reeds in die tweede kwartaal, waar ons aan vriendskaplike wedlope asook aflosbyeenkomste deelneem. Laerskool Impala neem aan drie Kempton Park liga-wedlope deel wat in Julie en Augustus (derde kwartaal) plaasvind. Hier kry atlete die geleentheid om te kwalifiseer om aan die D17-, Gauteng- en dan Suid-Afrikaanse kampioenskappe deel te neem.

 

Die Suid-Afrikaanse kampioenskappe vind gewoonlik in die September skoolvakansie plaas. Die Impies verteenwoordig jaarliks hul provinsie by die SA-kampioenskappe en kan spog met puik resulte oor die jare.

 

Impala Sport
Impie Jukskei

Laerskool Impala het jukskei as ‘n massadeelname sportsoort in 2017 begin. In 2019 het ons ‘n groot totaal van 110 leerders gehad.  Ons Impies presteer uitstekend in die skole-liga. In 2018 is ons aangewys as die top presteerders in jukskei vir Laerskole in Oos-Gauteng, met die volgende resultate: Veertien Liga-wenners, vyf Liga-naaswenners en twee Noord-Vaal naaswenners.

 

Ons spog met dertien provinsiale jukskei-spelers wat op Nasionale vlak presteer het.

 

Ons moedig elke Impie aan om by ons jukskei betrokke te raak, dit is hope pret en goeie kompetisie.

Impala Sport
Impie Golf

“I have to believe in myself. I know what I can do, what I can achieve.” -Sergio Garcia

 

Golf by Laerskool Impala is ‘n sport wat in die laaste paar jaar geweldig gegroei het. Spelers van alle vlakke en ouderdomme neem deel aan die plaaslike liga wat strek vanaf September tot en met Oktober.

 

Wedstryde word op wel-bekende bane in en om ons omgewing gespeel. Spelers het die geleentheid om ervaring op te doen op bane wat hulle uitdaag en in dieselfde asem waardering vir die spel te bevorder.

 

Daar was al talle spelers wat ons skool se naam met trots gedra het in die provinsiale liga. Hierdie spelers het hulself bewys op die baan deur ‘n passie vir golf uit te leef.

 

Die Impie-afrigtingspan het ervaring in die sport en wil sien hoe elke speler tot die beste van hul vermoëns presteer.

 

Ons visie vir elke speler is om hulle ware potensiaal te ontdek in ‘n sport wat waardevolle eienskappe soos geduld, selfvertroue en roetine bevorder. Spelers word ook gemotiveer om die spel ten volle te geniet.

 

Word deel van ‘n gemotiveerde span met ‘n passie vir die sport.

Impala Sport
Impie Ringbal

In die derde kwartaal speel die graad 4 – 7 Impies ringbal. By die ringbal is ons een groot familie. Ons lag, val en leer saam. Die Ringbal-Impies bereik elke jaar hoë hoogtes. In 2019 is Laerskool Impala aangewys as die skool wat ringbal die beste bevorder het in Ekurhuleni. Kom word deel van die Ringbal-familie.

Impala Sport
Impie Hengel

Laerskool Impala het hengel as ‘n sportsoort in 2018 begin. Gedurende daardie jaar het ons met drie spanne begin en het ons as naaswenners in die Laerskole-liga geëindig.

 

Laerskool Impala het in 2019 aan die Sentraal-Gauteng skole-liga deelgeneem. Hier het een van ons spanne gekwalifiseer om aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deel te neem en daar het ons Impies as Suid-Afrikaanse kampioene uitgetree. Ons hengelaars presteer jaarliks op Provinsiale sowel as Nasionale vlak.

 

Hengel groei as ‘n Impie-sportsoort, maar die samesyn tussen ouers en kinders is vir ons uiters kosbaar.

Impala Sport
Impie Skaak

By Laerskool Impala is skaak ‘n rustige sport wat fokus op strategië en hoër denke. Leerders leer om analities te dink en leer om probleme op te los. Leerders wat ander aktiewe sportsoorte doen kan hul brein ook oefen.

 

Ons het ‘n groep van twee en veertig leerders wat deelneem.  Ons groep bestaan uit ses spanne naamlik 0/9 A en B, 0/11 A en B en 0/13 A en B. Daar is sewe spelers in ‘n span.

 

Ons het ‘n voorseisoen wat in die eerste kwartaal begin, waar leerders skuiwe geleer word en dan drie weke later aan proewe deelneem en oefeninge bywoon. Wedstryde begin in die tweede kwartaal, gereelde oefeninge vind daagliks plaas. Gauteng-uitspele is in die derde kwartaal. Daar is geen kostes aan die lesse verbonde nie. Meneer Almero Du Pisanie bied ook skaak-akademie klasse aan teen ‘n billike prys. Die akademie is gestig om meer leerders ‘n kans te gun om ‘n liefde vir skaak te ontwikkel en as ‘n gebalanseerde Impie te groei.

 

In 2020 neem ons aanlyn deel. Covid-19 kon nie die skaakboffins keer nie.  Leerders kan aanlyn registreer en deelneem https://lichess.org